Thursday, December 17, 2009

Boetie Frans En Mariana se troue

Boetie Frans en Mariana se troue was 'n somer-plaastroue. 
Desember kan warm en droog wees. 
Die son wat versengend neerbrand op die oop Goudveldse vlaktes. 
Toe ons troue toe ry het ek gehoop dat 'n paar wolke sou verskyn. Net dat daar darem koeligheid sou wees, en bietjie kleurvolle agtergrond.
Die natuur het anders beplan, en Boetie Frans en Mariana ou die kleur verskaf.

Thursday, September 24, 2009

Nico en Daleen se troue

Nico en Daleen het mekaar een aand met 'n wedersydse kuiertjie in die meenthuis-kompleks ontmoet. Op daardie stadium was dit reeds algemeen aanvaar dat niemand die verhouding tussen Nico en die internet sou breek nie! Nico is 'n web 2.0 guru! 
Tog, toe hy vir Daleen sien was facebook, google en youtube vir eers vergete.
Beide Nico en Daleen wou klassieke en natuurlike foto's van die troue he.
Ek het die eerste foto's van Daleen by Grey Kollege geneem, hierdie is een van my gunstelinge:



Ek was baie gelukkig dat Pieter Viljoen bereid was om my daardie dag met die lokaal te help. En hy het vir een van my kosbaarste oomblikke ooit as fotograaf gesorg. Die bruid moe die trappe af met skoene wat nie trappievriendelik is nie, 'n ruiker in die hand en ja 'n balans om te handhaaf. Nou onthou, Pieter was daar om te help, nie om deel van die fotosessie te wees nie. Maar omdat hy 'n gentleman is, kon hy nie anders as om die bruid te gaan help nie. Ek is mal oor die oomblik:




Maar die doel was darem eintlik om 'n meer formele foto te neem:



Die groot oomblik.
Nico sit die ring aan Daleen se vinger.





Dr Nic Esterhuizen het die troukar bestuur. Na die seremonie het hy die bruidspaar vergesel na die foto-sessie. Wonderlike mens, Dr Nic!


Ek was mal oor die bome, kon nie anders as om 'n wyehoekskoot te neem nie:



Die oggend voor die troue het ek in die omgewing rondgery en op 'n klein kerkie afgekom. Die Moruti was daar en het toestemming gegee dat ek die middag daar 'n paar foto's kon neem.  Die lig het pragtig saamgespeel:


 Die bruidegom en die bruid kry 'n blaaskansie vir gedaan-voete:



Buite was die laaste Septemberlig besig saam met die sakkende son te verdwyn.


Die bruid arriveer by die onthaal:


Die dansbaan word geopen, die egpaar Baird demonstreer hulle ge-oefende "moves".


Friday, June 26, 2009

Elana en Van Zyl se troue

Elana het vir 'n hele paar jaar saam met ons by Liberty gewerk.
En die een ding wat ek vandag nog mis is haar heerlike lag. Maar die liefde het haar laat bedank en trek Natal toe.
Toe die e-pos kom om te vra of ek hulle troue sal afneem was daar geen keuse nie!
Natuurlik!!
Elana kom oorspronklik van Ficksburg af, en alles het op die pragtige Moolmanshoek gebeur.

Die grimeringsessie was die aanloop tot die fotosessie...

Terwyl ek die eerste foto's geneem het, was Elana nog effens onseker, haar natuurlike spontaniteit nog nie daar nie, maar toe die bruidegom aankom was dit weer Elana van ouds. Ek is mal oor die eerste foto van die twee saam. Dit was so 'n magic oomblik.


 Die donkiekar was vooraf beplan, maar die donkie se be-donkiegeit nie. Hoewel hierdie foto rustig lyk is daar allerhande dinge besig om in die agtergrond te gebeur om die steekse donkie sy gang te laat gaan. Op daardie oomblik verander die rol van fotograaf na regisseur en van huwelikspaartjie na akteurs - om alles net normaal te laat lyk! Lekker pret.



 Die drie W's van Troufotografie - as hulle saamwerk is dit ongelooflik:
Wolke, Weerkaatsings en Water...



Soms verstaan ek nie die bekoring van 'n foto nie. Dis net 'n oomblik wat my "tref." Geen rede nie, behalwe dalk mens se persoonlike ingesteldheid, smaak of voorkeure. Die volgende foto is een van daardie. Iets herinner my aan Jane Austin se romantiek...




Die predikant was wonderlik. Nie alleen sy boodskap nie, maar die wonderlike openhartigheid waarmee hy met die gaste en die bruidspaar gesels het. Hierdie foto was nie so beplan nie, maar ek is so bly ek kon dit vasvang, dit gee die "aard van die diens" pragtig weer:



Na die diens het die lig vinnig weggesak. Die perde by Moolmanshoek is een van die hoogtepunte van die troue. Die son was reeds agter die wolke, en dit was 'n kwessie van aanpas. Die bruidspaar moes na my kyk met die gedreun van hoefslae agter hulle - (nogal senutergend). Danksy die gebrek aan lig moes ek van 'n lae sluiterspoed gebruik maak. Juis dit het die volgende foto soveel meer trefkrag gegee, mens kan duidelik sien dat die perde aan die beweeg is:




Met al die aksie verby het ek die kamera byderhand gehou, en oomblikke later was ek te dankbaar. Die volgende foto is een van my gunstelinge. Die ruiter wat die perde aangejaag het ry in die agtergrond by die bruidspaar verby.



Dankie, Elana en Van Zyl. Dit was 'n voorreg om in julle goot dag te kon deel.

* Igno van Niekerk is 'n deeltydse fotograaf in Bloemfontein en neem graag troufotos en gesinsfotos.

Wednesday, April 29, 2009

Jeanne en Jannie - Troue: 18 April 2009

Toe hy haar die eerste keer sien, het Jannie geweet dat die meisie met die pragtige glimlag die vrou van sy drome is.
Jeanne het in die Spur gesit en Jannie het geweet hy moet net die sprankelende blondekop se telefoonnommer kry.
Jeanne vertel dat daar 'n klomp "toevallighede" was, maar as mens na die twee se troue kyk is dit duidelik dat tussen al die toevallighede hulle vir mekaar bedoel was!



Om hulle troue af te neem was 'n heerlike voorreg.  Ek het die eerste foto's van Jeanne by die haarkapper gaan neem. Tussen die fotonemery het ek vergeet om die program van die dag by haar te neem. Oppad motor toe het ek haar hoor roep. Gelukkig was die kamera by my. Ek is mal oor die spontane oomblik:



Alles het op die plaas gebeur - Jeanne het seker gemaak ek het 'n SMS met al die regte aanwysings, maar vanaf die ingang was dit duidelik dat daar groot opgewondenheid was op hulle troudag. En ja, aanwysings was daar oral...

Tussen windpompe en sandsteenpale bly die Oos Vrystaat my gunsteling plek in die wereld. Reeds in ons eerste gesprek was dit duidelik dat Jeanne graag saam met van die plaasdiere afgeneem sou word. Die trourok was skaars aan toe staan die perde al op die werf - gereed vir die fotosessie:

 
Jeanne was heerlik gemaklik, en het nou en dan klitse en grasse uit die rok moes haal,dis wonderlik as mens 'n sussie het wat help!



Uiteindelik was die groot oomblik daar, bruid en bruidegom het in die buitelug die registers geteken, en hulle was nou amptelik man en vrou!


Die tafelplanne was uiters kreatief!


Die son het goudgeel begin sak voor die aand se verrigtinge, terwyl ons besig was om nog foto's te neem van die bruidspaar.


En die eerste keer dat die bruid effens gespanne gelyk het, was toe sy die motor sien waarmee hulle op hulle wittebrood sou vertrek! :-)




 Met elke troue is daar soveel mooi oomblikke dat ek altyd wonder watter foto's my gunstelinge is. Hier is 'n paar waarvan ek sommer baie hou...

Jeanne blaas donsies teen die blou lug... In gewone omstandighede sou die skaduwees op haar rok my gepla het, maar in hierdie geval help dit nogal om die tekstuur op haar rok te beklemtoon wat deur direkte son "uitgewas" sou wees.



Die goue uur van die middag verskaf sagte lig:




By die ou murasie op die plaas.


 As fotograaf hoop mens dat die bruidspaar se wonderlikste oomblikke vasgevang kan word. Tog, met elke troue bou mens self die wonderlikste herinneringebank op. Jeanne en Jannie, julle is 'n pragtige paartjie.