Friday, June 26, 2009

Elana en Van Zyl se troue

Elana het vir 'n hele paar jaar saam met ons by Liberty gewerk.
En die een ding wat ek vandag nog mis is haar heerlike lag. Maar die liefde het haar laat bedank en trek Natal toe.
Toe die e-pos kom om te vra of ek hulle troue sal afneem was daar geen keuse nie!
Natuurlik!!
Elana kom oorspronklik van Ficksburg af, en alles het op die pragtige Moolmanshoek gebeur.

Die grimeringsessie was die aanloop tot die fotosessie...

Terwyl ek die eerste foto's geneem het, was Elana nog effens onseker, haar natuurlike spontaniteit nog nie daar nie, maar toe die bruidegom aankom was dit weer Elana van ouds. Ek is mal oor die eerste foto van die twee saam. Dit was so 'n magic oomblik.


 Die donkiekar was vooraf beplan, maar die donkie se be-donkiegeit nie. Hoewel hierdie foto rustig lyk is daar allerhande dinge besig om in die agtergrond te gebeur om die steekse donkie sy gang te laat gaan. Op daardie oomblik verander die rol van fotograaf na regisseur en van huwelikspaartjie na akteurs - om alles net normaal te laat lyk! Lekker pret.



 Die drie W's van Troufotografie - as hulle saamwerk is dit ongelooflik:
Wolke, Weerkaatsings en Water...



Soms verstaan ek nie die bekoring van 'n foto nie. Dis net 'n oomblik wat my "tref." Geen rede nie, behalwe dalk mens se persoonlike ingesteldheid, smaak of voorkeure. Die volgende foto is een van daardie. Iets herinner my aan Jane Austin se romantiek...




Die predikant was wonderlik. Nie alleen sy boodskap nie, maar die wonderlike openhartigheid waarmee hy met die gaste en die bruidspaar gesels het. Hierdie foto was nie so beplan nie, maar ek is so bly ek kon dit vasvang, dit gee die "aard van die diens" pragtig weer:



Na die diens het die lig vinnig weggesak. Die perde by Moolmanshoek is een van die hoogtepunte van die troue. Die son was reeds agter die wolke, en dit was 'n kwessie van aanpas. Die bruidspaar moes na my kyk met die gedreun van hoefslae agter hulle - (nogal senutergend). Danksy die gebrek aan lig moes ek van 'n lae sluiterspoed gebruik maak. Juis dit het die volgende foto soveel meer trefkrag gegee, mens kan duidelik sien dat die perde aan die beweeg is:




Met al die aksie verby het ek die kamera byderhand gehou, en oomblikke later was ek te dankbaar. Die volgende foto is een van my gunstelinge. Die ruiter wat die perde aangejaag het ry in die agtergrond by die bruidspaar verby.



Dankie, Elana en Van Zyl. Dit was 'n voorreg om in julle goot dag te kon deel.

* Igno van Niekerk is 'n deeltydse fotograaf in Bloemfontein en neem graag troufotos en gesinsfotos.