Monday, December 19, 2011

Schalk en Carina - Desembertroue in Bloemfontein

Carina en Schalk is op 'n heerlike Somersoggend in Bloemfontein getroud. Carina het by Petal Place voorberei en tussen die pragtige wit rose was dit die bruid in haar wit trourok wat absoluut gestraal het.

Tussen Carina se ma en 'n hele reeks sussies wat van oor die hele wereld kom kuier het vir die groot dag, het daar sommer 'n heerlike atmosfeer van gesellige saamkuier geheers. Daar was nooit eers sprake van senuwees by die bruid nie. (In elk geval nie sigbare senuwees nie :-))

Ek wil hier ook die bruidsmeisies bedank vir die uitstekende hulp met die ronddra van fotografie toerusting en alle moontlike hulpmiddels waarmee ons die lig kon manipuleer! Julle was wonderlik!


Na die bruid se voorbereiding is ons na die Duits-Lutherse kerk waar die twee in die eg verbind is deur Schalk se pa. Die bruid se instap in die kerk saam met haar pa was pragtig, met Schalk wat in die voorste bankie gewag het dat Carina se pa die sluier van sy bruid lig. Net voordat Carina ingestap het, het 'n sagte Bloemfonteinse briesie die sluier heerlik rondgewaai en nie die taak daarvan om dit op te sit enigsins maklik gemaak nie...

Die kerkdiens was informeel met die predikant-pa wat gereeld verwys het na die twee pragtige mense wat mekaar in hierdie verhouding gevind het.


Na afloop van die diens het die gaste vertrek na Vanilla Sky, waar 'n heerlike tee in 'n pragtig omskepte lokaal voorgesit is! Teen hierdie tyd was dit al lekker warm, maar danksy die lugreeling in die lokaal was dit 'n heerlike dag vol seenwense en lekker kuier tussen ou familielede wat mekaar lanklaas gesien het, nuwe families wat mekaar leer ken het, en vriende wat heerlik saamgekuier het. Ek deel nog enkele foto's van die dag:








Sunday, June 26, 2011

Joanette en Pieter - Pragtige troue in die koue

Vanaf die grimering tot die gooi van die kousband was Joanette en Pieter se troue 'n heerlike ervaring. Met 'n yskoue Bloemfontein gister was dit die bruidspaar se lekker warm persoonlikhede wat die neem van die foto's 'n heerlike voorreg gemaak het. Ek deel gou 'n paar van die foto's...









Baie dankie, Pieter en Joanette! Sowel as al die Tss Tss bruidsmeisies! Dit was voorwaar 'n dag om te onthou!

Sunday, May 29, 2011

Charne speel model

Charne het ons onlangs gehelp modelspeel toe ek 'n nuwe kamera getoets het. Hier is sommer so 'n paar van die foto's. Net vir jou Charne! Kan jy glo - dis so gou klaar :-)




Sunday, May 1, 2011

Gerrie en Madelein Troue - Brandfort

Ek het gister die voorreg gehad om Gerrie en Madelein se troue by Amanzi naby Brandfort af te neem. Dit was 'n heerlike dag, en die bruid het stralend gelyk met 'n rok wat haar ma, Marietjie, gemaak het:


Marietjie het haar voorbereiding by die Ou Pastorie gastehuis op Brandfort gedoen.

Daarna het ons almal die lekker grondpad wat vol uitdagings is na die wonderlike reenseisoen aangedurf na Amanzi, waar Ds Charles Mitchell die paartjie in die eg verbind het met 'n pragtige preek oor plig vs vrug.


Kort nadat die diens afgehandel is, het ons met 'n wilbesigtingsvoertuig na die dam naby die onthaalsaal gery vir foto's:






 Met 'n vinnig sakkende son was daar pragtige wolke in die lug, met wonderlike beloftes vir 'n pragtige huwelik:


Die onthaalsaal was pragtig, en die aand 'n wonderlike ervaring waar aandag aan elke klein detail van die onthaal gegee is, en elke gas soos 'n eregas kon voel!

Monday, April 11, 2011

Nelis en Marnie - Troue op Van Stadensrus

Ons het hierdie naweek die voorreg gehad om Nelis en Marnie se troue af te neem. 'n Heerlike plaastroue met vriendelike mense en heerlike atmosfeer.
Hier is die eerste paar foto's:















Monday, January 3, 2011

Quintus en Lizelda - Oujaarsaand Troue in Marquard

Dit was na 'n paar kuiers heen en weer dat Lizelda se pa vir Quintus se ma gesê het dat hy " 'n ding sien kom." En op Oujaarsaand 2010 is Quintus en Lizelda in die eg verbind. Lizelda se pa het sommer meer as een rol gehad om te vertolk. Hy was beide die "Pa van die Bruid" en die predikant. En so was dit met elkeen wat voorberei het vir die troue- sommer 'n hele paar dinge om te doen. 'n Pragtige plaasonthaal is op die bruidegom se ouers se plaas gereël, en almal het ingespring om die aand en die omgewing uniek te maak. Ek is seker die selfone het lekker gegons, en die bruidsmeisies het pragtig saamgespeel om te wys hoe die gonsery in die "ou dae" voor selfone sou lyk:


Dit het letterlik katte en honde gereën terwyl Lizelda reggemaak het. Tog was die Marquard hotel se binnekant so mooi dat ons heelwat lekker foto's kon neem. Met die volgende foto het Lizelda haar troukar gesien, en hoe die "Oom wat dit ry" soveel moeite doen om dit skoon te hou:


Skynbaar is Lizelda maar skugter vir 'n kamera, maar weldrae was sy 'n pragtig stralende modelbruid:


En hoewel die ruimte vir foto's beperk was, was die bruidsmeisies heeltemal bereid om as "sprankelende dekor" op te tree:
(Kyk net die koekeloerders!)

Na die kerkdiens het die bruid en die bruidegom saam poseer op die hotel se balkon... in die voorgrond val nog slierte reën...


Toe ons op die plaas kom het die reën ons sowaar kans gegee. Lyk amper of die bruid dit nie kon glo nie:



En soos dit later geraak het, het die lig die bruidspaar beloon vir hulle geduld en vriendelikheid terwyl die reën neergegiet (en die troukar gaan staan) het! Die donker wolke het 'n heerlike agtergrond gevorm...



Wat 'n heerlike voorreg was dit nie om saam met hierdie wonderlike paartjie te kon deel in hulle troudag nie!