Monday, December 19, 2011

Schalk en Carina - Desembertroue in Bloemfontein

Carina en Schalk is op 'n heerlike Somersoggend in Bloemfontein getroud. Carina het by Petal Place voorberei en tussen die pragtige wit rose was dit die bruid in haar wit trourok wat absoluut gestraal het.

Tussen Carina se ma en 'n hele reeks sussies wat van oor die hele wereld kom kuier het vir die groot dag, het daar sommer 'n heerlike atmosfeer van gesellige saamkuier geheers. Daar was nooit eers sprake van senuwees by die bruid nie. (In elk geval nie sigbare senuwees nie :-))

Ek wil hier ook die bruidsmeisies bedank vir die uitstekende hulp met die ronddra van fotografie toerusting en alle moontlike hulpmiddels waarmee ons die lig kon manipuleer! Julle was wonderlik!


Na die bruid se voorbereiding is ons na die Duits-Lutherse kerk waar die twee in die eg verbind is deur Schalk se pa. Die bruid se instap in die kerk saam met haar pa was pragtig, met Schalk wat in die voorste bankie gewag het dat Carina se pa die sluier van sy bruid lig. Net voordat Carina ingestap het, het 'n sagte Bloemfonteinse briesie die sluier heerlik rondgewaai en nie die taak daarvan om dit op te sit enigsins maklik gemaak nie...

Die kerkdiens was informeel met die predikant-pa wat gereeld verwys het na die twee pragtige mense wat mekaar in hierdie verhouding gevind het.


Na afloop van die diens het die gaste vertrek na Vanilla Sky, waar 'n heerlike tee in 'n pragtig omskepte lokaal voorgesit is! Teen hierdie tyd was dit al lekker warm, maar danksy die lugreeling in die lokaal was dit 'n heerlike dag vol seenwense en lekker kuier tussen ou familielede wat mekaar lanklaas gesien het, nuwe families wat mekaar leer ken het, en vriende wat heerlik saamgekuier het. Ek deel nog enkele foto's van die dag: