Monday, January 3, 2011

Quintus en Lizelda - Oujaarsaand Troue in Marquard

Dit was na 'n paar kuiers heen en weer dat Lizelda se pa vir Quintus se ma gesê het dat hy " 'n ding sien kom." En op Oujaarsaand 2010 is Quintus en Lizelda in die eg verbind. Lizelda se pa het sommer meer as een rol gehad om te vertolk. Hy was beide die "Pa van die Bruid" en die predikant. En so was dit met elkeen wat voorberei het vir die troue- sommer 'n hele paar dinge om te doen. 'n Pragtige plaasonthaal is op die bruidegom se ouers se plaas gereël, en almal het ingespring om die aand en die omgewing uniek te maak. Ek is seker die selfone het lekker gegons, en die bruidsmeisies het pragtig saamgespeel om te wys hoe die gonsery in die "ou dae" voor selfone sou lyk:


Dit het letterlik katte en honde gereën terwyl Lizelda reggemaak het. Tog was die Marquard hotel se binnekant so mooi dat ons heelwat lekker foto's kon neem. Met die volgende foto het Lizelda haar troukar gesien, en hoe die "Oom wat dit ry" soveel moeite doen om dit skoon te hou:


Skynbaar is Lizelda maar skugter vir 'n kamera, maar weldrae was sy 'n pragtig stralende modelbruid:


En hoewel die ruimte vir foto's beperk was, was die bruidsmeisies heeltemal bereid om as "sprankelende dekor" op te tree:
(Kyk net die koekeloerders!)

Na die kerkdiens het die bruid en die bruidegom saam poseer op die hotel se balkon... in die voorgrond val nog slierte reën...


Toe ons op die plaas kom het die reën ons sowaar kans gegee. Lyk amper of die bruid dit nie kon glo nie:



En soos dit later geraak het, het die lig die bruidspaar beloon vir hulle geduld en vriendelikheid terwyl die reën neergegiet (en die troukar gaan staan) het! Die donker wolke het 'n heerlike agtergrond gevorm...



Wat 'n heerlike voorreg was dit nie om saam met hierdie wonderlike paartjie te kon deel in hulle troudag nie!